Epictetus | |
Gebore | ca. 50 Hierapolis, Frigië |
---|---|
Oorlede | 135 Nicopolis, Achaea |
Nasionaliteit | Romeinse Ryk |
Vakgebied | Etiek |
Beïnvloed deur | Musonius Rufus, Sokrates, Diogenes, Zeno van Citium, Cleanthes, Chrysippus, Hippokrates |
Invloed op | Arrian, Junius Rusticus, Markus Aurelius, Albert Ellis, Han Ryner, James Stockdale |
Epictetus (Grieks: Ἐπίκτητος) was 'n stoïstiese filosoof uit die 1ste eeu n.C. Hy leef van ongeveer 50 tot 130 n.C. Saam met ander Romeinse filosowe soos Lucius Annaeus Seneca en Marcus Aurelius word Epictetus beskou as een van die leidende figure in die filosofie in die eerste eeu na Christus.
Epictetus se etiese opvattings is opmerklik konsekwent en kragtig en sy onderrigmetodes besonder effektief. Epictetus hou homself veral besig met integriteit, selfdissipline en persoonlike vryheid, wat hy bepleit deur van sy studente te eis dat sy twee sentrale idees grondig ondersoek moet word: die eienskap wat hy "wilsbesluit" (prohairesis) noem en die korrekte gebruik van indrukke (chrēsis tōn phantasiōn).
Epictetus beweer dat filosofie nie slegs 'n teoretiese dissipline is nie, maar wel 'n lewenswyse. Hy glo dat alle eksterne gebeure deur die noodlot bepaal word en mense dus daarop geen invloed het nie. 'n Mens sal alles wat gebeur kalm en nugter moet aanvaar. Maar almal is wel verantwoordelik vir hul eie dade, wat ons deur streng selfdissipline sou moet ondersoek en beheers.